ons reis.

ons reis.

Die Bybel praat van gelowiges as pelgrims wat op die oënskynlike kortstondige reis van die lewe is. Op die reis is ons besig om gevorm te word. Die reis is inderdaad 'n ewige reis, waar dit wat in hierdie deel, die aardse reis tussen geboorte en begrafnis, ewige implikasies het.
 
Ons wil op 'n reis nader aan… wees. 
 
Nader aan God – ons wil deur ons oorgawe, toewyding en gehoorsaamheid groei in ons liefde vir Hom.  
 
Nader aan Mekaar – ons wil groei in hoe ons mekaar help om deur die vreugdes, drome, uitdagings en pyn van die lewe, mense van liefde, hoop en heelheid te word.
 
Nader aan Betekenis – ons wil op 'n reis van ontdekking wees waar ons ons vermoëns, tyd en energie daaraan wy om God se doel met ons te bereik. Só wil ons eintlik saam met Hom op reis wees in dit wat Hy besig is om in hierdie stukkende wêreld te vermag.

Meer oor kerkverband

Eden Gemeente assosieer op verskeie vlakke met ander gemeentes en denominasies en ons definieer ons nie primêr binne denominele verband nie.
 
Ons fokus is hoofsaaklik op die omgewing waarin ons is en ons voel gemaklik om onsself te beskryf as 'n missionele gemeenskapskerk.  Ons het verhoudings met gemeentes uit verskeie denominasies asook onafhanklike gemeentes wat saam dink oor effektiewe missionaliteit.
 
In 'n sensus oor hoe ons lidmate hulself posisioneer, het byna 'n honderd persent van alle nuwe lidmate hulself nie tot lidmaatskap van 'n spesifieke denominasie verbind nie.  Die meerderheid van ons lidmate beskou hulself as deel van 'n plaaslike gemeente sonder enige spesifieke klem op denominele lidmaatskap.  Ons beskou onsself daarom as post-denomineel.

'n Paar verduidelikende opmerkings oor die term “post-denomineel”:

Ons is nie interdenomineel nie
Ons beoog nie om alle leerstellinge en bedieningsfilosofieë van verskillende denominasies te akkommodeer en beoefen nie. Ons posisioneer ons dogmaties konserwatief en ten opsigte van bedieningsfilosofie liberaal en missioneel.

Ons is nie anti-denomineel nie
Die grootste deel van die liggaam van Christus funksioneer binne denominele verband.  Ons eer die liggaam van Christus binne denominasies, terwyl ons tog ook sien dat daar ruimte is vir groei buite denominele verband.  (Ons glo dus nie soos sommige dat denominele strukture noodwendig verkeerd of boos is nie.)

Ons beskou onsself as post-denomineel.
Ons distansieer ons nie van die invloede vanuit ons denominele kerklike erfenis nie. Ons isoleer ons ook nie van die denominele wêreld ten opsigte van ontwikkelinge en verhoudings nie.

Ons is nie primêr denomineel nie
Ons wil nie 'n nuwe denominasie stig nie. Ons is 'n plaaslike gemeente wat met ander eendersdenkende gemeentes binne en buite denominasies wil assosieer op verhoudingsbasis.

Ons is nie non-denomineel nie
Ons put uit die ryk erfenis van die Kerk in die geheel en poog om effektief Kerk van Christus te wees in 'n post-moderne wêreld.  Ons raak as't ware relasioneel vaster aan die Kerk in die breë terwyl ons tog ons primêre identiteit nie aan een denominasie wil koppel nie. Ons poog om innoverend en kreatief te ontwikkel terwyl ons tog probeer om verlore skatte uit ons wortels te behou en nog ander wat verlore geraak het, terug te vind.